Na een jaar van getroud wees kan ek net sê die leer kurwe was skerp opdraend!
Aangesien 'n jaar verby is, dink ek dis hoog tyd dat ek vertel wat ek en James aanvang hier in die Ooste. Ons het terug gekom van Bali af, na 'n week lange honeymoon, en in sy piep klein flat ingetrek. Ons het daar gebly tot Desember en toe na 'n groter woonstel getrek binne stap afstand van ons kerk af. Ons buurt bestaan uit geboue wat gemiddeld 25 vloere elk het en ons woon op die 7de vloer. Ons het gelukkig 'n kort geboutjie voor ons, so ons het darem nie 'n baksteen muur wat ons in die gesig staar soos soveel ander mense nie. Ons het 'n twee slaap kamer flat, met die hoof slaapkamer en badkamer op die tweede verdieping. Die huur is R2 800 per maand en dis regtig in 'n prime area. Lewenskoste in Kaohsiung is aansienlik goedkoper as Taipei, grotendeels omdat die verblyf so goedkoop is. Ons flat is seker so R700 000 werd (volgens 'n vrou wat die flat oorkant ons sin wil koop) maar min buitelanders koop eiendom. Net Amerkaners, Kanadese en Britte kan eiendom in hul eie naam koop. Die res van ons moet 'n Chinese mede-eienaar hê.
Die hysbak geryery is wat my die meeste herinner dat ek nie in SA is nie. Vanoggend was Thandi (ons brakkie) missing, en toe kry James haar binne in die hysbak op die 12de vloer. Stoutert. Sy het haar beentjie soos 'n mal ding rond gegooi toe ek vanoggend in vrede probeer lees het, so toe gooi ek haar en haar beentjie by die voordeur uit om bietjie op die landing te jol. Dis toe dat sy op haar avontuur in die hysbak gegaan het.
Ek en James werk albei by dieselfde skool en in Julie het hy die bestuurder geword. Dis 'n baie lekker opset omdat 5 uit die 6 buitelanders wat daar werk christene is. Dit tel vir baie in Taiwan. Ek het onder andere, 'n klas 4 middae 'n week, vir twee en 'n half ure met 5 studente, almal tussen 6 en 8 jaar oud. 'n Half uur van elke klas is storie tyd en ons het alreeds deur die hele kinder Bybel gewerk. Een dag vertel ek 'n nuwe storie en die volgende klas moet hulle my dieselfde storie oorvertel voordat ons aanbeweeg.
Hulle is gewoond om geloof te praat en te dink omdat hulle daagliks mense sien geel papiere in swart dromme brand om die spoke te dien. Die spoke is voorvaders, so vroeg in hul geheues as hul oumas en oupas. Ek het al gehoor van mense wat christene word en dan deur hul ouers gevra word," Wie gaan my aanbid na my dood as jy nou besluit om 'n christen te word?" Dis belaglik wat die geloof hier is, maar dit word met oorgawe geglo en slaafs nagevolg. So dis met verbasing dat ek sien en hoor hoe goed die kinders die Bybel in ENGELS verstaan. Hulle slimste vrae en aanmerkings (ek het seker al die bestes vergeet, maar nou ja):
1. Teacher, why does the bad king always bai-bai to an idol? (bai-bai is Chinese vir bid)
2. I like Moses, he is very smart.
3. All the people are very naughty. Very BAD. They bai-bai to a cow. Moses is so angry, he shouts AAAAAAGH! and break the stones with the ten rules. But it's ok, God do again and people are good. They listen to Moses. He is the teacher.
4. Why Moses can't go into God's country? (Die outjie het amper begin huil toe hy hoor Moses mag Kanaan net gesien het, nie fisies in gegaan het nie.)
5. Goliath say HA HA HA, who is the boy with sling shot? David say, me and God will cut off your head, ugly man. You have power but God has the BIGGEST power.
6. A cow can't take away my bad things, so Jesus die and wake up.
7. Is Jesus coming to Tiawan? When?
Hulle love die name van die mense. Wanneer ons spanne name moet gee wil een span Elija wees en die ander wil Jonah wees. Die kort lettergrepe maak hulle bly. Die kleinste seuntjie, Ryan, toe hy nog vyf was, het my verbaas toe hy onophoudelik begin lag het vir Petrus. Hy het aanhou sê: "Peter is so funny." Toe Petrus eers sê dat Jesus nooit sy voete sal was nie, en later vra dat Jesus hom van kop tot tone was as dit beteken dat hy mag deel hê aan Jesus se koninkryk. Ook, die "Peter is so funny" het uit gekom toe Peter die eerste persoon was wat by die leë graf IN gehardloop het. Die res het net in gekyk. Ek dink Ryan love Petrus se gung-ho persoonlikheid.
Verder het ek en James 'n tweede brakkie vir so twee maande aangeneem en probeer rehabiliteer na 'n rowwe eerste paar maande in die ou brakkie se lewe. Nou is sy 'n gesonde 5 maande oue hondjie wat te lekker bly by 'n Chinese familie met die rare verskynsel van 'n tuin. So sy gaan bos. Ek het lang trane gehuil om haar weg te gee, maar nou ja.
James doen nou aansoek by 'n klomp law schools in Kanada en hy sal volgende September se semester begin swot. Dis verskriklik opwindend om te dink ons trek soontoe, maar dis nog vaag omdat ons nie seker is watter skool hom die beste finansiele hulp sal bied nie. Beurse is baie makliker bekombaar in Kanada as in SA so hy gaan wag en sien. Ek is regtigwaar nie kieskeurig oor waarheen nie, ek gaan dit love waarookal ons beland.
Sodra hy 'n aanvaardingsbrief van 'n universiteit ontvang het, kan ons my werkspermit en resident visa se aansoek inhandig. Dit neem 6 maande om te proseseer so alles hang af van wanneer die universiteite hul studente laat weet. Ek en Thandi sal dalk later as hy opdaag in Kanada. Sy het haar airline approved hok en als vir die trip so ons is reg. Ek dink sy gaan 'n mus benodig, maar dis vir later.
Vir nou sien ons net vreeslik uit na die SA trip in Desember. Ons sal kersfees in Jhb wees en daarna in Kleinmond. Ek kannie wag nie!
Laat dit goed gaan, en laat weet my hoe dit met julle gaan. Dis vrek ver van die huis af hier en ek voorsien nie dat ek nader gaan kom nie. Ek werk dit stadig maar seker deur, dis regtig nie 'n maklike ding om te besef dat ek nie huistoe gaan kom nie.
Gaan nou slaap! Het 'n rowwe dag by die dieretuin gehad saam met 'n klomp crazy kids.
BAIE liefde
Liezl